Paganisme

Astarte

Neopaganisme (Nieu-Paganisme) is ’n term wat nie na ’n spesifieke godsdiensgroep of spiritualiteite verwys nie, maar eerder na ’n versameling nie-monoteïstiese religieus-spirituele stelsels wat bepaalde eienskappe en oortuigings deel. Die woord Paganisme verwys in hierdie artikel na die die oplewing en modernisering van ou, inheemse, heidense religieë wat veral in Europa en die Midde-Ooste voor die koms van die Christendom bedryf is.

Die term is ’n samestelling van die Griekse voorsetsel neo (nieu-) en die Latynse paganus – oorspronklik letterlik “bewoner van die platteland”, later ook as ’n sinoniem vir heidense bewoners van die Romeinse Ryk – en dui gewoontlik aan op diegene wat voor-Abrahamiese geloofstelsels en geestelikhede volg.

Persoonlik verkies ek die term voor-Abrahamiese instede van nie-Abrahamiese, aangesien die term heiden/paganis vir “nie-Christene” eers met tyd in gebruik gekom heidene het byvoolbeeld beslis nie hulself heidene genoem nie. Daar bestaan ’n teorie dat die Gemaanse term “heiden” in gebruik gekom het nadat daar begin is om kerkgeboue op te rig en ’n onderskeid getref is tussen diegene “in die kerk” en diegene “op die heide” – die ou Germaane het, glo, as gebruik gehad om godsdiens in die vrye natuur te beoefen – “heide” verwys na ’n veld wat nie bebos is nie en ook nie vir landbou gebruik word nie.

Ishtar

Daar is ’n verskeidenheid “sinonieme” terme vir hierdie herlewing, soos Inheemse Spiritualiteit, Europese Tradisionele Religie, Nieu-Heidense of Heidense (hoewel Heidense deesdae na tradisionele Germaanse en Noorse gelowe, soos Ásatrú, verwys), Ou Geloof en Ou Godsdiens of Ou Religie. Staan meestal bekend as kontemporêre Paganisme of net Paganisme.

(Ek moet erken dat persoonlik dink ek dat die term “Paganisme” in Afrikaans’n aaklige woord is, maar ek het besluit om dit te gebruik om die verskille tussen kontemporêre Paganiste en Heidene te illustreer. Ek sou verkies om die word Heiden vir “Paganiste” te gebruik, en waneer daar na tradisionele Germaanse en Noorse gelowe verwys word, sou ek verkies om na Germanse Heidene en Noorse Heidene te verwys. Die terme “Paganisme” en “Paganiste” het egter die Afrikaanse taal stilletjies geinfiltreer, en het onder kontemporêre Heidene en Paganiste aanvaarbaar geword.)

Die belangrikste kenmerk wat die Paganistiese en Heidense religieë van die meeste ander gelowe en spiritualiteite onderskei, is dat hulle moderne weergawes is van religieë wat eens op ’n tyd byna heeltemal uitgewis is – religieë met voor-christelike spirituele wortels. Van die oorspronklike religieë, soos Godin-aanbidding en “natuur-aanbiding”, is moontlik meer as tien milleniums voor Christus reeds beoefen, maar het byna in die slag gebly namate die Christendom wêreldwyd versprei het. Die hedendaagse christendom is ondenkbaar sonder die bydrae van voor-christelike oer-religieë – dink net aan Kersfees en Paasfees.

Inanna

Moderne weergawes van hierdie ou religieë is meestal kombinasies van sekere leerstellings van die oorspronklike religie en praktyke, en twintigste-eeuse kennis. Hoewel sommige van die groepe, soos die Noorse Heidene (Ásatrú), probeer om so na as moontlik aan die oorspronklike religie te bly, verskil die moderne weergawes waarskynlik heelwat.

Mense het al in die laat Middeleeue daarna gestrewe om die tradisionele, voor-Christelike geloofstelsels te laat herleef. Maar eers in die tydperk van die Periode van Verligting toe die mens se stryd om van die kerkstaat se beheer oor kennis af te breek, gemanifesteer het in rasionalisme, positivisme, individualisme, liniêre denke en absolute waarhede.

Die oudste kontemporêre Paganistiese strominge is heel waarskynlik die Nuwe Druïde-ordes en Nieu-Keltiese groeperings, asook die “nuwe” Germaanse godsdienste.

Ceridwen

In die 1960’s het kontemporêre Paganisme veral in Engeland en die Verenigde State vinnig begin groei en sodoende ook ’n sterk invloed op die vastelandse Europa uitgeoefen. Die geloofstelsels van ander voor-Christelike beskawings soos dié van Noord-Amerika se rooihuid nasies en Sibiriese sjamane het ’n vaste bestanddeel van die Paganistiese beweging geword, terwyl ook die Keltiese geloof ’n nuwe opswaai beleef het.

Die voor-Christelike Nordiese godsdiens, wat in Ysland ná die amptelike kerstening van die land eeue lank as ’n ondergrondse beweging getolereer is, is in 1972 onder die naam Ásatrú amptelik erken. Ook Wicca, ’n kontemporêre heksebeweging wat sedert die 1930’s in Engeland begin ontwikkel het, het ’n deel van die hoofstroom-Paganisme geword.

Die huidige Paganistiese beweging word veral deur twee hoofstrominge gekenmerk – modernisme en tradisionalisme. Tradisionaliste strewe daarna om die oorspronklike voor-Christelike religies met wetenskaplike metodes en op die grondslag van gebrekkige historiese oorlewerings te rekonstrueer en nuwe lewe in hulle in te blaas. Daarenteen neem moderniste die moderne navorsing oor religies as basis vir ’n nuwe natuurreligie wat ’n vreedsame saambestaan van die mens en die besielde natuur behels.

Met die proses van institusionalisering is oorkoepelende liggame soos die Pagan Federation en South African Pagan Council in Suid-Afrika gestig. Daar is nogtans baie kontemporêre Paganiste wat enige vorm van georganiseerde optrede as “onheidens” beskou. Die verhoudings tussen die verskillende groeperings word egter deur wedersydse respek gekenmerk.

’n Ander belangrike kenmerk wat al die Paganistiese religieë deel, is die besonderse rol van die natuur. Paganiste is lief vir die natuur en glo dat daar ’n besondere band tussen hulle en die “magte en kragte” van die natuur is. Soms word daar na hulle verwys as “natuur-aanbidders”, aangesien die baie gode en goddelike wesens in hierdie religieë dikwels elemente van die natuur of natuurkragte verteenwoordig.

Die verskillende groepe kan gewoonlik as òf duoteïsties òf politeïsties beskou word omdat hulle òf ’n god en godin saam aanbid, òf in baie verskillende goddelike wesens glo en hulle vereer. Heidense godsdienste is egter nie eng politeïsties nie – natuurlik is daar baie gode, maar vir baie Paganiste is hulle individuele fasette van die Een, van die Goddelike, die heilige – ’n alles deurdringende, besielende, instandhoudende en onophoudende skeppende Krag.

Paganiste het meestal ’n benadering van “leef en laat leef” teenoor die meeste ander religieë. Paganisme is uit die aard van die saak ’n verdraagsame godsdiens aangesien dit meerdere invalshoeke en persepsies toelaat. Paganiste is daarvan oortuig dat daar nie net ’n enkele ware godsdiens is nie, geen enkele ware visie, geen enkele saligmakende boodskap is nie. Iedereen het sy plek in die kosmos, binne sy verbande of verhoudinge en elkeen sal sy paadjie loop volgens sy unieke persoonlikheid, sy eie aard, sy eie potensiaal, talente en begripsvermoë.

Paganiste lewe volgens ’n “etiese kode” met ’n verantwoordelikheidsin vir elkeen van sy dade. Dus probeer almal om die regte besluit te neem of handeling te verrig sodat die innerlike en uiterlike harmonie en standvastigheid verseker bly.Die beginsel van “doen wat jy wil, maar moet niemand skade aandoen nie”, word dus deur baie Paganiste en Heidene onderskryf.

Heilige seremonies gee uitdrukking aan Paganiste se verlange om na die begin van die tyd en die heilige tyd van die oorsprong terug te keer om homself weer met die goddelike wêreld te verbind en sodoende ’n tydgenoot van die gode te word. Hierdie aspek van die menslike bestaan het in talle oorsese indigene religieë steeds bewaar gebly, maar is in die Westerse wêreld as gevolg van die Christelike invloed vir ’n lang tydperk onderdruk.

Die hergeboorte van Paganisme is dus in kulturele opsig die hergeboorte van ou spirituele tradisies wat die natuur as ’n heilige en goddellike sfeer ervaar en in die kollektiewe gedagtenis van die mens bewaar gebly het.

Hierdie geloofstelsels bevat, gewoontlik, dan ook ongeag hulle uiteenlopende tradisies vier basiese beginsels:

• Die volkome goddelike wêreld kan nie deur ’n enkele godheid verteenwoordig word nie;
• Die goddellike sfeer maak hom op verskillende plekke en teen verskillende tye openbaar, en daar is baie godhede. Hierdie beginsel word ook as politeïsme beskryf.
• Die goddelike sfeer maak hom sowel in die natuur asook in elke mens openbaar – die goddelike is orals. Hierdie beginsel word ook as panteïsme beskryf.
• Die goddelike sfeer word sowel in die vroulike asook die manlike geslag geopenbaar, alhoewel dit natuurlik bo die twee menslike geslagte staan. Godhede is dus vroulik en manlik, god en godin.

Paganiste het vier belangrike feesdae in die jaar wat verband hou met die nagewenings (wanneer die dag en nag ewe lank is) en sonstilstande (wanneer die son die verste weg is van die ewenaar). Vier bykomende feesdae, wat elk tussen ’n nagewening en sonstilstand val, word ook gevier.

’n Ander kenmerk van Paganisme is dat dit meestal beoefen word deur individue of klein groepies, wat hulself kringe (circles), vergaderings (covens), kampe (garths), boomgroepe (groves), haarde (hearths) of verwantskappe (kindred) noem.

Omdat die Paganisme heelwat van sy rituele praktyke by ander groepe oorgeneem het, is daar baie van die rituele en beginsels wat ooreenstem. Magie (toordery en heksery) speel ’n baie belangrike rol in baie van die groepe en elemente van magie kom algemeen in Paganisme voor.

Kontemporêre Paganisme in Suid-Afrika, en elders in Afrika, blyk aan ’n gebrek aan outentisiteit te ly. Op eie bodem, en dus vir die meeste Afrikaanse aanhangers, blyk Paganisme ’n poging om aan plaaslikheid te ontkom – dit is nogaal ironies, aangesien in Europa, die geboorteplek van kontemporêre Paganisme, het die herlewing van paganisme juis gegaan om, en gaan dit nog juis om, die herwinning van eie spirituele wortels. Min Suid-Afrikaanse Paganiste volg antieke Afrika religieus-spirituele geloofstelsels (Egiptiese Paganiste uitgesluit).


Deel Twee: Heksery en Wicca


You may also like...

4 Responses

  1. Kaylin says:

    Kudos! What a neat way of tnhiking about it.

  2. Cindy Almeida says:

    Thank you for this article in Afrikaans. FINALLY. Just wish there were more ……””Maybe left around accidently around Afrikaan churches …….” kekkle kekkle kekkle.

  3. Andraste_Boudicca says:

    Dit is opvallend dat in die Christene se lewe glo hulle in die drie eenheid. Vader, seun en heilige gees… Is elk van hulle nie maar ‘n god in eie reg nie??

    Ek is een wat opsoeke gegaan het in die lewe. Van christenskap het oor gegaan na Islam. Dit het sy eie tradiesies wat as geloof afgemaak word. So die soeke het voort geduur.

    Ek het weer op soek gegaan en ek het iets gevind wat meer stook met my geloof as dit wat in ‘n kerk of mosque gegee word. Wie kan meer gee as die natuur? Dit een kan nie sonder die ander nie.. m.a.w. dat Paganisme is die fondasie vir Christenskap en christenskap is die fondasie vir islam. En so bou ons aan!

    Leef en laat leef… dis al wat ek kan vra. Moenie oordeel nie want die wat oordeel doen dit uit vrees.

  4. Thank you Erebos! I am delighted to read yet another of your Afrikaans articles and as you know I am a “great fan” of all your articles.
    Looking forward to more.

    Hugs
    Morgause

Leave a Reply