Kaste

Soos baie van julle wat die Beeld en Rapport lees dalk mag weet, is die Christelike uit vir hul pond vleis. Alweer. En hierdie keer is hul heksjagtery (verskoon die woordspeling, ek kon myself net nie help nie) op die gay gemeenskap gemik.

Ek is ‘n baie groot vegter vir LGBT (Lesbiëer, gay, biseksuele en ‘transgendered’) regte. Hoe so? Dis dan so alles wat teen die goeie Afrikaner grein gaan, is dit dan nie? My pappabeer is ‘n Reiki master, kristal terapeut en ligwerker, en kan jy jou nou meer, gay. Dis nou dieselfde diaken wat voor in die kerk sy beste Riaan Kruywagen nabootsing gedoen het. Ernstig en vroom. Toe kom hy by die kas uit om waar om aan homself te wees. Hy is nou ‘n gelukkige, eerbare, spirituele mens en ‘n briljante pa wat ons groot gemaak het om selfstandige grootmense te kan wees. ‘n Klerekas, enige iemand? Het ons dit regtig nodig?

Nou het die gereformeerde kerk hul mes in vir ‘n goeie vriend van my wat teologie swot. Die gay seun en die heksie het briljant oor die weggekom toe hulle mekaar ontmoet vir die eerste keer. Ons beide leer by mekaar en daar is geen konflik nie. Ons respekteer mekaar se grense, en tog is alles oop vir bespreking sonder dat een party lelik raak en die ander in die rede val. Dis mos hoe ‘n vriendskap moet werk, reg? Nou word hierdie selfde, eerbare, saggeaarde knaap se naam in die media rondgeslinger en almal het hul harke gegryp en is reg om die brandstapel te bou.

Hy is ook nie die enigste gay of biseksuele persoon daar nie. Hierdie vriend van my is ‘n doring en ‘n held. Deur hierdie hele debakel het hy kop gehou en nooit begin vingers wys nie. Hy het nie sy ander gay vriende ge-‘out’ nie en sy kop omhoog gehou terwyl almal en wie se neef hul modderkoekies slinger. Soveel vir balke in eie oë, of dan hoe?

Dit het my laat dink. Toe ek uit die besemkas gekom het, het ek mense saam met my gevat om my hand vas te hou en my te ondersteun. Ek het inligting laat rondlê sodat dit darem nie te veel van ‘n skok sou wees nie. Ek was doodbang wat my familie en vriende sou sê. Dit was een van die vreesaanjaendste oomblikke van my lewe. My palms het gesweet, ek het vir dae aaneen geoefen wat ek gaan sê en watter vrae hulle vir my kan vra en hoe ek daarop gaan reageer. En hierdie vriend van my word deur die media en sy ‘portuur’ gekruisig vir sy andersheid. Sonder om iemand se hand vas te kan hou. Sonder om gevra te word vir sy opinie en waar hy vandaan kom. Sy naam word net ingesleep sonder dat hy die kans het om homself te regverdig. Sy situasie is soveel moeiliker as myne, en in alle waarskynlikheid, joune. Is ‘n bietjie aanvaarding soveel gevra, al moet jy uit jou gemaksone kom?

Diskriminasie is ‘n baie lelike ding, want dit fokus net op een aspek van jou menswees, nie jou as geheel nie, en dus probeer baie van ons dit vermy om uit die besemkas te kom, op jou besem met jou aangeplakte vraatjie op jou neus (net vir effek, natuurlik), omdat dit jou jou werk of verhoging kan kos. Dan sluit ons mos belangrike dele van onsself, en party mensies hul hele menswees, in ‘n kas weg om daar in die donker stof te vergader, sonder om hulself ooit aan enige iemand bloot te stel.

Hier is wat ek by my pappabeer geleer het: Kaste is vir klere, besems, nie-verganklike kos en bekers. Geraamtes en mense pas net nie daarin in nie en op een of ander stadium gaan hulle uitval as jy hulle daar probeer wegsteek. Kaste is ongemaklik, klein en beknop. Dis donker en ruik soos motbolle. Niemand kan in vrede so leef en groei nie.

Bygesê, dit beteken nie om ‘n rooi mikteken op jou voorkop te verf en jouself soos ‘n lam ter slagting te laat lei nie. Onthou, die goeie breekware word net vir belangrike geleenthede uitgehaal, en party dele van jou menswees mag maar in die kas bly tot die geleentheid reg is. Maar wees eerlik met jouself, al kan jy dit met niemand in jou binnekring deel nie. Daar is, dankie tog, aanlyn gemeenskappe waar jy met mense nes jy kontak kan maak. Jou ware vriende sal by jou staan omdat jy jy is en hierdie net ‘n aspek van jou is. Jou familie sal (op ‘n stadium) vrede maak met die pad wat jy gekies het om te loop. Laat jou liggie skyn, en moet hom nie onder die emmer wegsteek nie.

Deur ‘n eerlike en gelukkige lewe te lei, dwing jy respek af. Jy raak ‘n rolmodel vir almal wat gedeeltes in hul kaste wegsteek. Jy hoef nie skaam te wees vir wie jy is nie, net slim met wie jy deel. So kan ons ‘n gemeenskap begin bou wat gaan lei tot ‘n kaslose samelewing waar mense met vreugde in hul harte kan wees wie hulle is. Aanvaarding begin by jouself, en loop uit na jou gemeenskap en daarna die samelewing. Ons kan nie van die samelewing verwag om ons te aanvaar as ons dit nie vir onsself kan doen of ons eie gemeenskap kan aanvaar nie. Ons is almal pragtig in ons uniekheid en andersheid, maar terselfdetyd is ons net fasette van die groot diamant wat ons saam vorm.

So vandag neem ek my voor om almal wat uit ‘n kas kom, ‘n groot drukkie en liefde te gee, want hulle is ‘n deel van myself. Kom ons los daardie motbolle in die kas en haal diep asem in aanvaarding en liefde vir onsself en ons mede kas-gangers.

You may also like...

11 Responses

  1. Hardy says:

    Papabeer,Respek vir jou….

    En Anita,weereens n pragtigge en diep skryfstuk

    Ja ek is gelukkig dat ek ma nog altyd ‘anders’ was,so my familie het geen probleme met my.

    Het wel n paar ‘vriende’ op faceboek verloor toe Die my as vriend ge’ad’ het,en op my profilie gesien het waarvoor ek staan…

    Ek is nog besig om meer te ontdek oor ons Oer-Voorvaders en Gelowe,en dit is wonderlik om hier op die forums te kan deel.

    Ai Antoinette ek onthou jou sielswroegings wat jy gehad het,en eks bly jy het vrede.

    Weereens Dankie aan Almal van Julle wat in hierdie tyd in My lewe ingekom het

    Baie Liefde Groete

    Hardy

  2. Antoinette Keyser says:

    Hi Anita! Dis great om te kan terugvoer gee, want so hou ons mekaar aan die gang. En aan Pappabeer net die volgende: baie geluk met die stap wat jy geneem het. Ek weet dit het baie moed geverg. Maar daarsonder sou jou siel nie oorleef het nie. My Gay vriende het almal werklik begin leef nadat hulle uit die kas gekom het. As mens nie vry kan wees om jouself te wees nie doen dit afbreuk aan jou menswees, en uiteindelik sterf jou siel. Ek is bly vir jou. Voorspoed op jou pad vorentoe. 🙂

  3. Pappabeer... Ja! says:

    Ja, dis ekke waarvan geskryf word… Ek het so diep in die verste hoekie van die kas weg gekruip dat my siel eendag, met ‘n hyg en amper laaste asem, vir my vierkantig in die oë (ja, in die donker hoekie) gekyk het en gesê het…. ek is amper dood. Ja, my siel was so te sê dood omdat ek ander mense probeer tevrede stel het. Dankie tog, ek het na hom geluister en daardie ongemaklike en UITERS moeilike stap geneem. Vandag is my siel en alles wat daaraan gekoppel is die gelukkigste wat hy nog ooit was.

    En ja, ek was uiters geseënd om drie wonderlike dogters te hê wat my totaal en al aanvaar. DIT, is die grootste beloning waarvoor ek ooit kon hoop. Dankie dalk julle nie toegelaat het dat die teologiese ‘gurus’ julle siele gesaboteer het nie 😉

  4. Anita Blackrose says:

    Hi Helen en Antoinette!

    Ek hoot julle beide, is ‘n baie swaar besluit om te moet maak. Dis nie altyd maklik nie, maar ek reken vir jou sielswelstand, is dit nodig.
    Baie dankie vir die positiewe terugvoer!

  5. Antoinette Keyser says:

    Helen, ek weet. Ek was self daar. Lees my kommentaar op Anita se artikel. Onthou (en die woorde het oorspronklik uit ‘n Christen Pastoor se mond gekom): In everything you say and do, always, to your own self, be true). Hou moed, Girl!
    *hugs*
    Lovies
    Antoinette

  6. Antoinette Keyser says:

    Hi Anita! Ek identifiseer 100%! Ek het BAIE Gay vriende, en ekself is ‘n Heksie wat lank gesukkel het om uit die kas te kom, tot ek eendag net besluit het dis genoeg, en met soveel grasie moontlik (ook net vir effek, lol) op my besempie daar uitgevlieg het, in ‘n paar swierige sirkels bo my familie se koppe gedraai het, en vir hulle gesê het “Okay, eks ‘n Heks, en wat daarvan?” Hulle was nie baie beïndruk nie en my broer, musiekleier in sy kerk, sou maklik die eerste vuurhoutjie trek om die brandstapel aan die gang te kry as hy kon. Maar weet jy, jy is reg. Hulle het dit stelselmatig aanvaar, en vandag is my verhouding met my familie sterker as voorheen. Ek gaan selfs op die 20ste Aug saam met my broer-hulle na ‘n Revue vertoning kyk waarin hulle Gr 10 dogter optree. Ek is so bly ek het uitgekom, want nou kan ek werklik myself wees! 🙂 )o(

  7. Helen says:

    Dankie vir jou mooi woorde Anita! Dis baie donker en eensaam in die kas.

  1. Oct 20, 2012

    … [Trackback]…

    […] Read More Infos here: penton.co.za/?p=973 […]…

  2. Nov 14, 2012

    … [Trackback]…

    […] Find More Informations here: penton.co.za/?p=973 […]…

  3. Nov 15, 2012

    … [Trackback]…

    […] Read More here: penton.co.za/?p=973 […]…

  4. Jan 1, 2013

    … [Trackback]…

    […] There you will find 36685 more Infos: penton.co.za/?p=973 […]…

Leave a Reply