In Lig en Liefde

hekseketel

Ek is ‘n Pagan huweliksbeampte of “religious marriage officer” geregistreer onder SAPRA se vaandel. Een van die eerste dinge wat paartjies my vra is hoekom ek ‘n huweliksbeampte geword het.  Ek het ‘n fantastiese, unieke, spontane Las Vegas-styl troue gehad.  Ek wou graag vir ander Pagans en gay paartjies dit moontlik maak om hulle dag te kan hê soos hulle dit wil hê, met dit wat vir hulle betekenisvol is, sonder voorskrif of sensuur.  Ek het reeds meer as veertig troues gedoen en ek is bly en trots om te kan sê dat nie een ‘n vervelige, konvensionele troue was nie.

My eerste troue was vir twee goeie vriende en hulle strooijonker en strooimeisie was die enigste ander gaste. Die derde troue was egter ‘n formele Pagan ritueel en daar was 30 gaste.  Ek het by die altar gaan staan en vir ‘n oomblik het my knieë lam geword. Ek het vir myself gesê, “Colleen, dit is die mense se enigste troue, die enigste kans om dit reg te kry.  Jy mag eenvoudig nie ‘n voet verkeerd sit nie.”  En alles het seepglad verloop.

Een troue het op ‘n pragtige wildsplaas in Mpumalanga plaasgevind.  Daar was sowat 80 gaste en almal het vir die langnaweek oorgebly. Die omgewing was prentjiemooi en op die vooraand van die troue was die lug wolkloos.  Ons het op ‘n wildrit gegaan en het onder andere ‘n skaars swartwitpens gesien.  Die liefde en omgee tussen die familie en jarelange vriende was tasbaar.  Die troue sou in die veld onder ‘n ou maroelaboom plaasvind.  Die oggend van die troue het grou en dreigend aangebreek en die bruid was paniekbevange.  Ons het by die boom gekom en weliswaar het dit begin rëen!  Die gaste het onder sambrele gaan skuil.   Uiteindelik het die musiek begin speel – die pragtige tema van The Mission – en net toe die bruid agter die bome uitgestap het, het die son meteens deurgebreek.  Niemand het droë oë gehad nie, en agterna het ons gedans tot 3uur in die oggend.

Onlangs het ek twee vroue in die eg bevestig.  Hulle is wonderlike oop, liefdevolle mense en hulle verhouding is sterk, maar daar was tog ‘n skadu oor hulle geluk.  Die een partner se ouers is konserwatief en wou nie haar lewensmaat aanvaar nie. Soos hulle groot dag nadergekom het, het hulle maar altwee aanvaar dat haar ouers nie daar sou wees nie.  Op die dag van die troue het ek opgdaag by die pragtige kapel vol veelkleurige blomme en kerse, en terwyl ons gewag het, het die ouers ingestap en gaan sit.  Die trane het vrylik gevloei.  Liefde gaan nie net oor ons gevoelens vir die ander persoon nie, maar ook oor aanvaarding, en vir hierdie ouers om daar vir hulle dogter te wees op haar groot dag is een van die mooiste gebare wat ek nog ervaar het.

Ek het ‘n Buddhist paartjie getrou by die Tibetaanse Buddhistesentrum in Vrededorp.  Ek het nie een nie maar twee metalhead paartjies (goeie vriende van my) in die huwelik bevestig.  ‘n Ander vriendin het ‘n ingewikkelde Pagan ritueel met ‘n Wilde Weste tema gehad.  Nog ‘n troue was in die vorm van ‘n swierige skemerkelkie en wenkbroue het gelig toe die paartjie oor die besem gespring het!

Met een troue het alles verkeerd gegaan. Die mikrofoon het ophou werk minute voor die bruid ingestap het.  Dit het gereën en die dak het gelek. Ons het binnetoe geskuif en van voor af begin.   Die paartjie het hulle troubeloftes vergeet en almal het oor hulle woorde geval.  Nogtans was dit ‘n onvergeetlike troue, so opreg en uitsonderlik soos die paartjie self. 

Vir my is trou ‘n rite of passage, ‘n roetemerker op jou pad saam met jou geliefde. In die 21ste eeu is trou nie meer iets wat mense móét doen nie. Nogtans kies baie mense om wel trou aan mekaar te beloof in die teenwoordigheid van hulle geliefdes en die gode, en dit is vir my ‘n bewys dat mense nog in blywende liefde glo.  Daarom gee dit my groot vreugde om vir een, belangrike dag my bydrae te lewer om pragtige herinneringe te bou.  Ek sê altyd vir paartjies die volgende:  In goeie tye sal julle terugkyk na julle troudag en saam glimlag; in moeilike tye sal julle terugkyk na hierdie dag en onthou hoekom julle vandag hier gestaan het, en wat julle vandag aan mekaar gegee het, en dit sal julle krag gee om aan te gaan.

Ek sluit af met die woorde van die ou Ierse troubeloftes, een van my gunstelinge:

Above you are the stars, below you are the stones. As time passes, remember… Like a star, your love should be constant; like the earth, your love should be firm. Let the powers of the mind and of the intellect guide you in your marriage, Let the powers of love and desire make you happy, and the strength of your dedication make you inseparable. Possess one another, yet be understanding. Have patience with each other, for storms will come, but they will pass quickly. Be free in giving of affection and of warmth; Have no fear, and let not the ways or words of the unenlightened give you unease, for the powers that be are with you, now and always…

Pagan huweliksbeampte in Suid Afrika

You may also like...

Leave a Reply