Heksery en Wicca

Erebos

Deel Twee van Paganisme

Voor die kerstening van Germaanssprekende Europa het die Haegtesse (hekse) hoë aansien in die gemeenskap geniet. Alhoewel die hekse geliefde en gesiene persone was, was hulle ook omstrede. Die rede hiervoor is dat daar gelo is dat hulle beide wit (positiewe)- en swart (negatiewe) magie beoefen het – hoewel magiese energie nie wit of swart is nie, dit is neutral, en dit is die beoefenaar wat bepaal hoe hierdie magiese energie aangewend word.

Volgens die ou Germaanse- en Keltiese geloof het “heilige vroue” gedien as skakel tussen die mens en die goderyk. Onder die term “heks” het ook vroue ingesluit wat  bekend gestaan het as wicca’s, Seidkona’s, Wolva’s, Disas, Matrone en Gefjons. Hierdie vroue was die psigoloë, dokters, adviseurs, waarsêers, toekomsvoorspellers, ens, van ons voorouers.

Met die koms van die Christendom na Europa (Suid-Europa vanaf 300 nC; Midde-Europa vanaf 700 nC; Noord-Europa vanaf 1000 tot 1100 nC, en die Baltiese lande vanaf 1400 nC), vind ’n ommeswaai plaas. Hekse is nou nie meer die “gesiene” en “wyse vroue” nie, maar “duiwelsgebroed”. Aanvanklik is hulle nie altyd vervolg nie, maar tydens die middeleeue wel. Die term “heks” het toe die betekenis begin kry van ’n “bose” en “duiwelse figuur”.

Die woord “heks” kom alleen in die Wes-Germaanse tale voor. In Nederlands “heks”; Middelnederlands “haghetisse”; Duits “Hexe”; Middelhoogduits “hecse” of “hesse”; Oudhoogduits “hagzissa” of “hagazussa”; Moderne Engels “hag” en in Oudengels “haegtesse”. Soms word daar aan die woord heks- ook nog die woord: dis, tis, tes, maar ook sus of moeder gevoeg – dus hagesus, hagedis of hagemoeder. Die woord Dis, Tis of Tes (ook Tessa) dui op ’n heilige vroulike figuur en selfs ’n vroulike goddelike wese. Die woord “heks” is afkomstig van die Proto-Germaanse hagatusjon- en van Proto-Indoeuropese khagh-. Die woord heks is verder verwant aan woorde soos: haag, behaag, behae, welbehae, maar ook hoog en hoogheid en ook aan Hedge (Engels), Hedge-priest (Engels).

Verder is die woord heks ook verwant aan woorde soos hek en heining wat dui op ’n grens. Hekse het ’n sirkelvormige grens gemaak op die plek waar hulle rituele uitgevoer het, deur klippe te pak of met ’n stok ’n streep (’n magiese “grens”) op die grond te trek.

In moderne Engels is die woord hag verdring deur die woord witch. Die woord witch beteken wysheid en is verwant aan die woord wys(e), maar ook aan die woord Wiking. Soms word onderskeid gemaak tussen wicca (manlik) of wicce (vroulik). Hierdie woorde is weer verwant aan die Angel-Saksiese witan (sien, weet). Op dieselfde manier het Yslands vitki (heks) ontwikkel uit vita (weet) of vizkr (’n wys mens). Wizard (towenaar) is afgelei van die Normandies-Franse wischard, Oudfrans guiscart (die skerpsinnige). Die Engelse woorde wit en wisdom (wysheid, verstand) is ook hieraan verwant.

Tydens die kerstening van Europa word die ou gewaardeerde en hooggeëerde gode en godinne van die Kelte en die Germane gedemoniseer en is voortaan as duiwelsfigure voorgestel. Die Kelto-Germaanse gode en godinne word verdryf ten gunste van die Romeinse Christendom. Alle ander aspekte van die Keltiese- en Germaanse godsdiens sou gekersten word en verder deur die lewe gaan as “sprokies”.

Die sprokiesagtige stereotipe van ’n heks, wat op ’n besem ry en dikwels van ’n  swart voël (Odin se raaf) of kat (van Freya) vergesel word, is afgelei van die ou voorstellings van wesens. Die besem hou moontlik verband met ou vrugbaarheidsfeeste. Vroeër moes daar juis op huweliksfeeste oor besems gespring word. Die heks op ’n besem het moontlik onder invloed van moderne sprokiesverhale en illustrasies veral in Duitsland posgevat. Die algemene opvatting was wel dat hekse kon vlieg. Dit is mootlik dat die heinings wat uit palissades bestaan het (meestal gekruiste boomtakke) later beskou is as besems.

Die “grens” of “heining” of “hag” was onlosmaaklik deel van hekswees. Dit was nie alleen haar leefruimte nie, maar ook is rituele wat onder haar leiding uitgevoer is, binne ’n bepaalde grens gedoen. Dit dui op die letterlike betekenis van die woord heks. Maar die heks het ook simbool gestaan vir ’n figuurlik grens. Dit is die grens tussen die mens en die goderyk/geesteryk. Die heks was die skakel of die bemiddelaar tussen “hierdie wêreld” en die “ander wêreld”. Die heks was instaat om grense te oorskry.

Tot ongeveer die 13de eeu, is heksery beskou as ’n normale deel van die volkskultuur, waardeur die mens beheer probeer verkry het oor natuurverskynsels. Die oudste Middeleeuse Duitse regsboek Saksespieël, wat tussen 1220 en 1235 saamgestel is, het drie oortredings geken waarvoor die brandstapel-dood opgelê is – kettery, towery en vergiftiging. Enkele 13de eeuse dokumente verwys na “ooreenkomste met die duiwel”, maar anders is daar in die 13de en vroeë 14de eeu min bronne wat na heksery en die vervolging van hekse verwys. Die kerklike owerhede het destyds blykbaar min belang in hierdie saak gestel. ’n  Dekreet, wat in 1258 deur pous Alexander IV geskryf en aan die inquisitores gerig is, het dit duidelik gestel dat heksery (divinationes et sortilegia) slegs vervolg en gestraf moes word indien dit saam met kettery beoefen is.

Teen die 14de eeu het die siening, onder kerklike druk, radikaal verander. Die Germaanse gemeenskap was teen dié tyd al vir die grootste gedeelte gekersten, maar die ou gebruike uit die verre verlede het bly voortleef. Die hekse was steeds die dokters, psigoloë en adviseurs. Dit was ’n doring in die oog van die kerkvaders wat hierdie laaste Heidense bastion wou kelder. Hierdie kerkvaders het hulle “motivering” gevind in Exodus 22:18 waarin staan dat hekse nie mag lewe nie.

’n Deeglike studie gedoen deur Prof Karl Ernst Jarke, wat in die vroeë 19de eeu strafreg aan die Berlynse universiteit gedoseer het, het in sy bestudering van die 17de eeuse strafsake aangedui dat baie ter dood veroordeelde hekse inderdaad aspekte van die ou Heidense natuurreligie beoefen het.

Aanvanklik is die hekse meesal nog lig gestraf, maar met verloop van tyd het die strawwe al swaarder geword en in frekwensie toegeneem. Die hoogtepunt van die heksejag was tussen 1550 en 1650, met die ergste gevalle tussen 1610 en 1630. Die laaste teregstellings het plaasgevind in Nederland in 1610; in Engeland in 1684; in Frankryk in 1745, in Duitsland in 1775, in Switserland in 1782 en in Pole in 1793. Selfs in die Nuwe Wêreld is Hekse vervolg, byvoorbeeld in Nieu-Engeland en Salem (Massachusetts, VSA) in die laat 17de eeu.

Die Middeleeuse wette wat heksery in Brittanje verbied, is eers in 1951 afgeskaf.

Presies hoeveel hekse vermoor is, is onbekend.’n Konserwatiewe skatting is dat ten minste 60 000 mense tereggestel is, die meeste in Germaanssprekende lande. Tog is daar ondersoekers wat meen dat honderde duisende, indien nie miljoene, hekse hulle lewens op brandstapels verloor het, maar dit is heel onwaarskynlik.

Die eintlike vervolging van hekse het begin na die verskyning van ’n boek, Malleus Maleficarum (in Nederlands bekend as “Heksenhamer”) uit die pen van die Duitse inkwisiteurs Heinrich Institoris en Jakob Sprenger in 1487. Daarin is aanwysigings gegee oor die vervolging van hekse. Die boek is geskryf na aanleiding van die berugte bul “Summis Desiderantes Affectibus” (1484) van Pous Innocentius VIII, waarin hy die kerklike jag op hekse geopen het. In die boek is nie alleen beskryf watter bose werke deur hekse veroorsaak is nie, maar ook die hele strafproses en hoe hulle gemartel moes word.

Aanvanklik was maar slegs ’n paar vroue hekse, maar dit was nie lank nie of enige persoon kon as heks aangewys word. As die buurman siek was, het iemand hom getoor. As ’n koei te min melk gegee het, was dit miskien die skuld van die buurvrou. As dit weke lank nie gereën het nie, was dit die skuld van ’n vrou in die buurt. ’n “Verdagte” kon by die dorpsbestuur aangegee word en is dan laat haal vir ondervraging en van daar af het alle ellende begin.

’n “Verdagte” is gemartel, totdat sy erken het dat sy een of ander “duiwelse daad” gepleeg het, want erkenning was die enigste ware bewys van haar skuld. Voordat sy op die brandstapel beland het, moes sy ook soveel moontlik name noem van “medeverdagtes”. “Skuldiges” is uiteindelik op die brandstapel met vuur “van levende lijfve ter doot ghebracht”. In Engeland is die meeste hekse egter gehang.

WICCA

Wicca is een van verskeie Paganistiese godsdienste wat in die tweede helfte van die twintigste eeu ’n groot oplewing beleef het.

Wicca het sy oorsprong in die ou heidense of natuurgelowe, wat die aanbidding van die natuurgeeste praktiseer en sterk klem lê op die eerbiediging van die “groot sabatte” wat met die wisseling van die jaargetye saamgaan.

Soos ander Paganistiese godsdienste, is Wicca ’n moderne weergawe (herlewing) van ’n ou, inheemse, heidense religie wat grootliks in die slag gebly het met die uitbreiding van die Christendom. Moderne Wicca is ’n kombinasie van sekere beginsels van die antieke Keltiese godsdiens waar die godin van vrugbaarheid en die Horinggod aanbid is, rituele en praktyke wat van ander esoteriese groepe oorgeneem is, en moderne kennis.

Wicca het vir die eerste keer in 1954 gewildheid verwerf danksy Gerald Gardner, ’n  Britse amptenaar, nadat die Britse Witchcraft Act (Wet aangaande heksery) afgeskaf is. Gardner het beweer dat hierdie beweging, waarvan hy’n ingewyde was, al eeue lank in die geheim bestaan het en sy oorspronge teruggaan op die voor-Christelike Europese heidendom.

Die moderne term het oorspronklik as Wica in Gardner se werk Witchcraft Today (1954) verskyn en na verteenwoordigers van die “Ou Religie” verwys wat hy uitvoerig beskryf het – maar nie na die religie self nie. Gardner se skryfwyse Wicca is vir die eerste keer in 1969 gedokumenteer.

Wicca is die moderne manifestasie van die ou paganisme en heksebeweging. Die term Wicca is afgelei uit die ou Angel-Saksiese taal en beteken letterlik “waarsegger” (die vroulike term is wicce, en ook die Engelse woord vir heks, witch, is heel waarskynlik afgelei van wicca. Algemene kennis wil dit hê dat die woord Wicca moontlik ook uit die Indo-Europese “wic” (wiek), wat beteken om te buig of vleg, afgelei is. Moontlik is ook wigle (waarsêery) verwant aan hierdie term – wigle berus immers op die gerekonstrueerde Indo-Europese woordstam weg wat vermoedelik “waaksaamheid” en “lewendigheid” beteken het. Die Gotiese weihs “heilig” is ’n ander moontlikheid.

Gardner, en ander Wicca-skrywers, het nogtans voorgestel dat die term van die Oud-Engelse woorde wita (wyse man) of witan (weet) afgelei moet wees – ’n verwysing na die bewering dat hekse vroeër as wyses beskou is. Volgens hierdie etimologiese afleiding word na Wicca deesdae ook as Craft of the Wise verwys. Hierdie etimologie is reeds in die 19de eeu deur Walter William Skeat voorgestel en sou wicca as ’n variasie van die vroeëre witga verklaar. In 1948 is ’n verbinding met die wortel “wei” (buig) voorgestel, verwant met willow (wilgerboom) en wicker (gevlegte mandjies). Die betrekking tot heksery word afgelei van die gebruik van towerkuns om die natuurkragte te “buig”.

Volgens Gardner het Wicca duisende jare gelede ontstaan uit rituele wat verband gehou het met vuur, jag, vrugbaarheid en genesing van siektes. Die vorm van Wicca wat deur Gardner ontwikkel is, staan vandag nog bekend as Gardneriese Wicca, hoewel sommige van sy aansprake intussen as onwaar bewys is. Daar is byvoorbeeld bevind dat Wicca nie deur al die eeue in die geheim bly voortbestaan het nie en dat Gardner baie van sy inligting oor rituele wat uit antieke bronne sou kom, uit die geskrifte van Alisteir Crowley en Vrymesselary oorgeneem het.

Een van Gardner se volgelinge, Alexander Sanders, het in die 1960’s die sogenaamde “Alexandriese Wicca” ontwikkel. Hoewel effens oordadig, het Sanders baie gedoen om Wicca te bemark en onder meer as gas op verskeie televisie-programme in Brittanje verskyn.

In die 1960’s het Wicca ook in die VSA kop uitgesteek, waar verskeie vertakkinge gou ontstaan het. Die mees omstrede groep is waarskynlik “Dianiese Wicca”, wat in 1971 gelyktydig in Venice (Kalifornië) en Dallas (Texas) begin is en fokus op die aanbidding van die antieke Griekse godin Diana.

Sommige Wiccans beskou hierdie vorm van Wicca as onaanvaarbaar omdat Diana belangriker geag word as die Horinggod (of Gehoringde God) en die “perfekte balans” só versteur word. Baie vroue het egter aanklank gevind by dié groep en vandag het talle Dianiese kleingroepe ’n sterk feministiese aanslag.

Daar word, egter, algemeen aangeneem dat die beginsels van Wicca se teologie eers in die twintigerjare van die 20ste eeu neergeskryf is. Sedertdien is verskillende verwante Wicca-tradisies ontwikkel, terwyl Gardner se oorspronklike versie as die Gardneriaanse Wicca bekend staan. Die ander Wicca-tradisies het almal hul eie geloofsoortuigings, rituele en praktyke. Baie van hierdie tradisies bly steeds geheimsinnig, en lede moet ingewy te word. Daar is selfs ’n beweging, wat as Eklektiese Wicca bekend staan. Sy lede glo nie dat ’n mens enige leerstelling of inisiasie moet volg om Wicca te kan praktiseer – hierdie staan ook bekend as Neo-Wicca.

Wicca beoefenaars glo in ’n balans van polariteite (uiteenlopendes) wat as manlik en vroulik beskou word. Hierdie twee pole – die manlike en vroulike – word in die natuur beliggaam as twee goddelike wesens bekend as die Godin en Horinggod. Die twee godhede vorm ’n volmaakte balans en word as gelykes beskou.

Die Godin verteenwoordig innerlike “bestaanskrag” en die oorsprong van die ganse skepping – insluitend die aarde, die natuur en die lewe self. Bewyse van Godin-aanbidding in die voor-Christelike era in die vorm van klein vroulike beeldjies is oral in Europa gevind.

Die Godin het drie aspekte of “gesigte” wat onderskeidelik as die Maagd, die Moeder en die Ou Vrou  uitgebeeld word en ooreenkom met verskeie siklusse in die natuur soos die drie stande van die maan, die vroulike menstruele siklus en die siklus van geboorte, lewe en dood. Daar word soms na haar as die “Drievoudige Godin” verwys.

Die Horinggod (ook bekend as die antieke Keltiese god Cernunnos – gehoringde) verteenwoordig die manlike kant van die natuur en is ook die een wat die “hek” na lewe en dood oopmaak. Hy beskik oor die vrugbaarheid wat die Godin in staat stel om lewe te gee, maar is terselftertyd die jagter en daarom ook die een wat die dood bring.

Wiccans glo die Horinggod verteenwoordig die manlike krag wat wild en sterk is, maar nie gewelddadig, patriargaal of vernietigend nie. Voorstellings van die Horinggod het ook later hul verskyning gemaak in Egipte, Mesopotamië en Indië.
Wiccans glo tradisionele heidense gode soos Diana, Pan en Zeus verteenwoordig almal verskillende eienskappe van die Godin en die Horinggod.

Anders as baie religieë en geloofsgroepe, het Wicca nie ’n bepaalde stel reëls en voorskrifte wat lede moet volg nie. Daar is egter drie oortuigings of beginsels wat as riglyne dien vir alles wat Wiccans glo en doen.

Die eerste beginsel word die Wiccan-rede genoem en dien as etiese riglyn vir toorkuns sowel as die alledaagse lewe van die Wiccan. Dit verklaar eenvoudig: “doen wat jy wil, solank jy niemand skade aandoen nie”. Wiccans kan self besluit watter pad hulle in die lewe wil volg, solank as wat niemand – hulself ingesluit – daardeur benadeel word nie.

Die tweede beginsel waaraan Wiccans glo, staan bekend as die Drievoudige Beginsel. Dit beteken dat ‘n mens se dade drievoudig keer na hom of haar terugkeer. Indien iemand iets boos sou doen, sal ’n boosheid drie keer erger hom tref, en indien hy iets goeds doen, sal hy iets drie keer beter terug ontvang.

Wiccans glo nie dat daar ’n hemel of ’n hel bestaan nie. Hulle glo dat ’n mens se siel of gees ná jou dood weer in ’n ander liggaam gebore word. Sommige groepe glo dat hierdie siklus van geboorte, sterf en weer gebore word oneindig is, terwyl ander glo dat ’n siel wat al die lesse van die lewe geleer het, ewige rus vind in ’n plek wat hulle Somerland.

Reïnkarnasie word gesien as ’n soort “kosmiese regstelsel” (karma) wat ook die misbruik van toorkuns beheer, aangesien ’n mens se dade in hierdie lewe bepaal in watter posisie jy in jou volgende lewe gebore gaan word.

Wicca het nie ’n spesifieke alles-omvattende stel heilige skrifte nie. Elke kleingroep   het sy eie Skuduboek (Book of Shadows) met rituele, aanroepinge en amulette wat vir hulle van belang is.

Wiccans boots graag rituele of aspekte daarvan na by mekaar of uit ander vorme van magie. Dié word dan aangepas namate die groep daarmee eksperimenteer om uit te vind wat die doeltreffendste vir hulle is.

Soos baie ander Paganiste, het Wiccans vier belangrike feesdae en vier kleiner feesdae wat almal sabbatte genoem word en min of meer 45 dae uitmekaar voorkom. Die belangrikste sabbatte is die Samhein (31 Oktober), Imbolc (2 Februarie), Beltane (1 Mei) en Lammas (1 Augustus).  Die vier kleiner sabbatte is die twee jaarlikse nagewenings op 21 Maart en 21 September (wanneer die dag en nag ewe lank is) en die twee sonstilstande (wanneer die son die verste weg is van die ewenaar). In die Noordelike Halfrond val die winter-sonstilstand op 21 Desember en die somer-sonstilstand op 21 of 22 Junie. In die suidelike halfrond word die datums van die feesdae omgekeer.

Die meeste Wiccans is individue wat hul rituele op hul eie beoefen en nie noodwendig enige kontak met ander Wiccans het nie. Kleingroepe het meestal ’n hoëpriester en/of -priesteres wat onderskeidelik die Horinggod en Godin verteenwoordig en deur die ander lede verkies word. Behalwe vir enkele uitsonderings, is daar selde ’n hiërargiese struktuur of oorkoepelende organisasie buite die kleingroep.

Die rituele en praktyke wat in Wicca gebruik word, is afkomstig uit ’n wye verskeidenheid bronne in die toorkuns en verskil daarom aansienlik van groep tot groep. Rituele word meestal tydens Esbatte uitgevoer, maar ook tydens spesiale byeenkomste wat onderling deur die groep gereël word. Kleingroepe verkies gewoonlik om iewers in die buitelug bymekaar te kom.

Die doel van rituele kan wissel van genesing, waarsêery (deur verskillende metodes), onderrig (waar die hoëpriester of -priesteres as tussenganger dien deur wie die Horinggod of Godin die ander lede leer), toewyding van hulpmiddele en inwyding van nuwe lede.

Die maan het van die begin af ’n belangrike rol in Wicca gespeel, ten spyte daarvan dat die Kelte se hoof-godsdiens, die Druïdisme, in hul rituele meer op die son gerig was. Só het die maanstande later die drie gesigte of aspekte van die Godin voorgestel en is baie rituele ook tydens volmaan uitgevoer.

Deel Drie: Druïdisme, Germaanse Goddienste en Asatru

You may also like...

8 Responses

  1. bed liner says:

    This is a really tremendous post. Seems like you’ve been posting for a while, if not, keep it up because this is fine information. I like it so very much.

  1. Jul 19, 2012

    … [Trackback]…

    […] Find More Informations here: penton.co.za/?p=613 […]…

  2. Jul 23, 2012

    … [Trackback]…

    […] There you will find 60349 more Infos: penton.co.za/?p=613 […]…

  3. Jul 25, 2012

    … [Trackback]…

    […] There you will find 78576 more Infos: penton.co.za/?p=613 […]…

  4. Jul 26, 2012

    … [Trackback]…

    […] Read More here: penton.co.za/?p=613 […]…

  5. Jul 26, 2012

    … [Trackback]…

    […] Read More Infos here: penton.co.za/?p=613 […]…

  6. Jul 26, 2012

    … [Trackback]…

    […] There you will find 60257 more Infos: penton.co.za/?p=613 […]…

Leave a Reply