Hallo Wêreld, of, Welkom by die Hekseketel

.

Hekseketel, s. nw.  1. Ketel waarin hekse allerhande kruie tot toordranke, toormiddels kook. 2. Verwarde toestand; plek waar die toestand onrustig en verward is.  Die hekseketel van die internasionale politiek.”. (WAT, 1972: 149; HAT, 2005: 384).  In die algemene gebruikstaal, ‘n smeltkroes, of, ‘n moeilike vrou (vg. viswyf).

Dit is vir my baie opwindend en ‘n groot eer om vir Penton te blog.  Ek het nogal heelwat om te sê en hoop ek gaan nie teleurstel nie!

Ek gaan nie in Alcoholics Anonymous-styl alles oor my kinderjare vertel nie maar wil tog graag ‘n bietjie agtergrond gee. Vir die afgelope 15 jaar self-identifiseer ek as sekulere Pagan en Witch, en is my hoofdoel om ‘n regte, egte outydse wysevrou of dan nou heks te word. Vir my moet ‘n wysevrou ietsie van alles weet en met alles kan help.  Sy moet weet van genesing en kruie, tuinmaak, geboorte en kinders grootmaak, en gesonde kos; kan help met huiswerk, weet hoe om naaldwerk te doen en ‘n huis op te knap, ‘n seer hart kan ligter maak, goed kan luister, en soms net lekker saamskinder of giggel oor die snaakse ou lewe.  As deel van my pad het ek sielkunde gestudeer, ‘n Pagan huweliksbeampte geword, geleer van diëetkunde en kruie, ensomeer, en ek werk daaraan om nog soveel as moontlik te leer.

Ek glo egter in vandag se tyd bevind ons ons ook in ‘n groter spasie. Die internet, ten goede of ten kwade, maak dit bykans onmoontlik om nié te weet van die baie lyding en ongeregtigheid daar buite nie.  Ons is met ander mense regoor die wêreld in aanraking.  Ons weet bykans onmiddelik van enige natuurramp, oorlog of ander tragedies, soos die onlangse Aurora massamoord, soos dit ontvou.  Daarom voel ek vandag se heks behoort ‘n bietjie van ‘n aktivis te wees.  Dit blyk algemeen aanvaar te words dat die woord Witch van wicce kom, wat beteken, “om te buig of vorm”.  Dit is dus vir my deel van my alledaagse lewe om ‘n beter wereld te probeer buig en vorm.  Ek glo ook ons werk is om balans te herstel, daarom is feminisme, gay regte, rassegelykheid, diereregte, opvoeding en die omgewing almal belangrike kwessies. Dit is ook verstrengel met die politiek, en ek glo geen mens met sterk beginsels kan meer deesdae neutraal teenoor politiek staan nie. Sielkunde verskaf waardevolle insig, om te verduidelik en te verstaan, maar ook hoe om te genees en te bou. Ek hoop om dit alles en nog meer in my 21ste eeuse hekseketel om te brou.

Gepraat van heks, ek wil graag die woorde “heks” en “witch”, hul oorsprong en die omstredenheid daarom ook ondersoek.  Die verskeie publieke persepsies van Witches en Witchcraft bly ‘n brandpunt, soos weereens getoon in die geval van die verminkte hasie (om nie te praat van die algemene gebruik nie – sien ook die betekenis van hekseketel bo-aan!!) maar dit is ‘n blog vir ‘n ander keer.  Ek gaan ook soms my seepkissie gebruik om mense, groepe en organisasies wat goeie werk doen, uit te lig, want ek glo ons is ‘n gemeenskap van mense wat die daad by die woord sit en graag help.  Ek skryf in Afrikaans want dit is my moedertaal, en ek weet daar is heelwat Afrikaanse Pagans.  Ons taal is ongelooflik uitdrukkingryk en vol snaaksigheid.  Ek wil ook graag van julle hoor, al is dit om my oor die kole te haal.  Ek gaan dalk omkrap of op tone trap maar hopelik gaan ek julle, die lesers, soms iets gee om oor te dink, inspireer, of miskien net laat lag.

NS. Wat is ‘n mooi Afrikaanse vertaling vir Pagan?  Heiden is “heathen” en nie die regte sambreelterm nie.  Laat weet gerus wat julle dink.  Groete 🙂

.

You may also like...

3 Responses

  1. Colleen says:

    Eep, didn’t see the comments on here until now. Thanks Lady Luna Owl 🙂 En dankie Hardy, ek is daar maar baie stil – sal probeer meer bydra 🙂

  2. Hardy says:

    Hi Colleen
    Pragtig,wonderlik hoe ons Afrikaans sprekendes begin om in ons taal Paganisme leef. . . . ?
    Ons het n Afrikaanse f.b groep,genaamd Spinnerak,as jy nog nie aangesluit het nie,dan sal dit vir my n eer wees om jou daar te he,ons is ook in die proses om n Webwerf op die been te bring,in Afrikaans vir Afrikaners
    Sp kom help om die Weef die Web x

  3. Luna Owl says:

    Hi Colleen,
    It is refreshing to read an artical about Paganisum in Africaans for a change, and look forward to reading more of your blogs.
    Blessed be Luna Owl

Leave a Reply