Frats van die Vrystaat

.

“Why be happy when you can be normal?” – Mev. Winterson, aanneemouer van skrywer Jeanette Winterson.

Soos sommige van julle weet, het ek onlangs na ‘n klein dorpie in die Vrystaat getrek.  Alhoewel ek hier gebore is (wel in Tempe buite Bloemfontein om presies te wees), het ek nog nooit vandat ek oud genoeg is om iets te onthou hier gewoon nie.  Ek het 18 jaar in Pretoria gewoon en daarna vir 6 in Johannesburg, so ek het nou maar teen wil en dank ‘n stadsjapie geword.  Ek is redelik seker dat dit nogal ‘n ondervinding gaan wees.

Ek het met ‘n dagboek begin maar soos meeste nuwejaarsvoornemens het die goeie bedoelinge net ‘n dag lank gehou.  Die eerste dag het my bleek, gotiese vel reeds bruingebak en het ek ontdek dat sekere dele van die Vrystaat weliswaar so plat is dat die hoogste nie-mensgemaakte ding ‘n miershoop, of soms net ‘n geil mielie is.  Die diere- en voëllewe hier is egter wonderlik – ‘n mens sien veral vlermuise, flaminke, valke, uile, duiwe en ‘n magdom sangvoëltjies – en die stil, gitswart nag is met duisende sterre besaai.

Daar is ook baie armoede hier – vandat dele van die myne gesluit en ander skagte geoutomatiseer is, is werkloosheid en desperasie tasbaar.  Ek hoor egter dat planne onderweg is om die situasie te verlig, en ek het self ‘n paar planne van my eie – meer daaroor later.  Ek het intussen heelwat tyd gehad om te dink en te betrag.

Die dag nadat ons hier aangeland het, het my pa se ouderling kom huisbesoek doen.  Hy het my ma met die intrapslag gevra of sy in hulle kerk is.  Ek het skielik onthou ek het kos op die stoof.  Ek weet nie of die goedige omie sou verstaan van Godinaanbidders nie en ek het teen daardie tyd reeds met hom oor Indiese mynahs gestry.

By my dogtertjie se nuwe skool (‘n plaasskool wat in die laat veertigerjare aangelê is) is die nuwe skooljaar geopen met skriflesing en gebed.  In die skoolhoof se toespraak het hy die skool se missie en visie voorgelê en weereens regtig benadruk  dat dit ‘n skool met Christelike waardes is.

Dit het my bietjie laat nadink oor hoe baie mense Afrikaanse identiteit gewoonlik met Christelikheid vereenselwig, maar meer kommerwekkend, hoe baie mense goeie morele en etiese waardes met Christenskap vereenselwig.  In Dostoevsky se meesterstuk The Brothers Karamazov sê die een karakter dat sy en haar familie ander karakters in hul uur van nood sal bystaan want, “we are Christians, too”.  Ek probeer goeie waardes uitleef maar is nie ‘n Christen nie – maak dit my waardes uit die staanspoor minder positief?  Dit is ‘n valse digotomie – of jy is ‘n Christen en het waardes, of jy is nie en het nie.  Natuurlik is dit nie beperk tot Christendom nie maar is ook op ander gelowe van toepassing.  Hoekom is mense so seker dat jy hulle spesifieke geloof moet aanhang om goeie waardes te kan hê?  En is hulle waardes altyd vanselfsprekend goed?  Iemand het vir my ‘n Wikipedia-artikel oor die interpretasie van die Bergrede gestuur, en al die vele denkskole daaromtrent – party het geglo dit moet tot die letter nagekom word, ander dat dit nie letterlik bedoel was nie, en nog meer mense het sommer die bewoording na goeddunke verander.

Dit het my laat dink aan my etiese kode as Pagan.  Ek weet nie almal volg dieselfde kode maar meeste van ons volg tog een of ander variasie van “harm none”.  Dit is veel meer gekompliseerd as wat dit voorkom.  Moet niemand skade berokken nie, ook nie jouself nie.  Dit plaas die onus vierkantig op ons, op die individu.  Daar is geen boek met reëls nie, geen voorskrifte of gebooie nie.  Daar is net jou eie denke, waardes en gewete.  Jy moet self opweeg en bepaal wat reg is – vir jou, en vir almal om jou.

Nog iets waaroor ek heelwat nagedink het is die feit dat ek heel moontlik die enigste vegan of streng vegetariër in die hele Vrystaat is.  Ek het reeds ‘n paar geligte wenkbroue gekry wanneer mense vir my melktert aanbied en ek nee dankie sê.  My vegan lewenstyl hou sterk verband met MY etiese waardes, en nogtans gee ek nie net respek en aanvaarding aan ander mense wat aan my spesifieke waardes voldoen nie.  Hoekom is mense se aanvaarding soms so voorwaardelik?

Ek het aanvanklik gedink dat ek maar onder die radar gaan probeer vlieg om dinge nie vir my kind ongemaklik te maak nie.  Dra minder swart (nie ‘n maklike proposisie nie), bly maar uit die geloofsdebatte uit ,  moet nou nie die heks-bordjie uithang nie.  Intussen het ek my egter beskikbaar gestel om die Pagan Freedom Day viering in die Vrystaat te reël en het ons buurman my juis Dinsdagaand vreemd aangestaar toe ek in die wonderlike, suiwerende wind gaan staan het met my hare los en my arms uit.  Subtiel, né?  Ek het daaroor nagedink en besluit dat, anders is ek nou maar een maal anders.  Ek glo ek is ‘n beter voorbeeld en rolmodel vir my kind as ek my ware self met moed en integriteit uitleef.  En soos Dr. Seuss (dalk, of dalk nie) gesê het, “Be who you are and say what you feel, because those who mind don’t matter, and those who matter don’t mind.”

 .

P.S.  Soos gewoonlik, wil ek ‘n organisasie uitlig wat uitstekende werk doen, en wie beter as ons eie Pagan Council – gekose welsynsorganisasie, CLAW (Community-Led Animal Welfare), wat mense en diere in die armste gebiede help.

.

You may also like...

Leave a Reply