Die Reg om Nee te Sê

.

Hierdie is ‘n pynlike artikel om te skryf en gaan seker meer so wees om te lees, maar as vrou, Pagan en veral ma van ‘n jong dogter is die onderwerp gereëld in my gedagtes.

Ek lees in die laaste tyd baie oor verkragting, seksuele aanranding en die “Oorlog teen Vroue” in Amerika.  Ek weet nie of julle die verkiesing sirkus daar volg nie, maar as julle doen weet julle reeds van Rep Todd Akin se moroniese bewerings dat die liggame van vroue wat “werklik” verkrag is, ‘n manier het om swangerskap te verhoed, en dat dieselfde Akin en die vise-presidensiële kandidaat, Paul Ryan, die herdefiniëring van verkragting as gewelddadige verkragting of “forcible rape” steun.   (Die logiese gevolgtrekking is dat verkragting waarin geweld nie gebruik is nie maar waar dwelms, dreigemente of die status bv. Ouderdom van die slagoffer ‘n rolgespeel het, nie“werklik”verkragting is nie).  Ek het ook ‘n artikel gelees waarin die skrywer vra of die seksuele mishandeling wat sy ondervind het, verkragting is.

Ek gaan nie nou ingaan op my sieninge oor aborsie of die meriete van die saak in die bogenoemdeartikel nie.  Ek wil ook aan die uitset sê dat hierdie nie ‘n aanval op mans is nie, want die problem lê nie by alle mans nie en is ook nie beperk tot mans nie.  Dit is wel ‘n aanval op patriargisme.  Ek sou graag aandag wou gee aan menigte faktore in vroueregte.  Ek gaan egter fokus op verkragting en seksuele aanranding (is daar ‘n verskil?) omdat dit sulke ekstreme en tog sulke algemene gebeurtenisse in ons wêreld en veral in ons land is.  Ek glo baie mense deel my kommer – lees byvoorbeeld hierdie uitstekende artikel.Belangrikste van als wil ek aanraak wat ek glo ons daaromtrent kan doen.

Dit is erg genoeg dat iemand moet vra of wat met haar gebeur het, verkragting was.  Dit is egter vir my minder van ‘n raaisel as die feit dat mense blind is vir die feit dat enigiets behalwe volle konsensuele seks tussen ingeligte en bemagtigde volwassenes, misbruik en mishandeling is.  Hoekom vra vroue of dit wat hulle ondervind het verkragtig was?  Hoekom vra mans nie of wat hulle besig is om te doen, ten volle welkom en aanvaarbaar is nie?

‘n Vreesaanjaende konsepis wat feministe noem “verkragtingskultuur”, ‘n  kultuur waarin seksuelemishandeling en verkragting algemeen is, en waar die samelewing en media dit normaliseer en selfs tot ‘n mate aanvaar.  Ons lééf in hierdie kultuur. Suid-Afrika het die hoogste verkragting statistieke in die wêreld en ‘n meisie hier het ‘n groterkans om verkrag te word as om te leer lees.  En ver van die samelewing se opvatting dat dit net mooi jong meisies is wat uitlokkend aantrek en optree, is ‘n groot aantal slagoffers kinders, oumas, en gestremdes.  Mans is ook slagoffers.  ‘n Spesifieke teikengroep is lesbiese vroue – daar is klaarblyklik ‘n opvatting dat homoseksualiteit ‘n “Westersesiekte” is en dat lesbiese vroue derhalwe “gesond” gemaak kan word en “terug verander in Afrika-vroue” – deur hulle te verkrag.  Dit blyk egter net ‘n verskoning vir haat misdaad te wees, aangesien meeste slagoffers gewoonlik agterna wreedaardig vermoor word, en daar dus geen “genesing” kan wees nie.

Dit blyk dus duidelik dat verkragting nie werklik oor seks gaan nie.  Maar die baie verkragtings wat plaasvind binne intieme verhoudings of tussen mense wat bekend is aan mekaar dui ook aan dat dit nie net die optrede van enkele sielsieke geweldenaars is nie.  Waar oor gaan dit dan? Ek glo dit is ‘n gevoel van geregtigheid (“entitlement”).  Mans (en die samelewing as geheel) neem aan dat seks en mag hulle toekom. Daardie mag sluit in beheer oor intieme maats maar ook oor vroue in die algemeen, minderheidsgroepe, diere en die omgewing.  ‘n “Regte” man is een wat vat wat hy wil hê, of so vertel die algemene wysheid ons.

Vroue, aan die anderkant, is enersyds die hekwagte van seksualiteit (en moet hulle maagdelikheid ten alle koste behou) en tog ook ‘n besitting of hulp bron wat nie mag nee sê nie.  Trouens Hammurabi het die eerste wette oor verkragting gekodifiseer – in die vorm van saak beskadiging, oftewel “property damage”.  Dit is duidelik dat vroue hierdeur in ‘n onmoontlike posisie geplaas word.  ‘n Vrou is nie regtig in beheer van haar eie liggaam nie, want haar liggaam is “goedere” – eers behoort sy aan haar pa, en dan aan haar man.  Dit het maar onlangs eers werklik in wetlike terme verander. Word sy van haar maagdelikheid ontneem, al is dit deur verkragting, staan sy in streng patriargalelande ‘n goeie kans om deur haar eie familie vermoor te word oor die “skande”.

Slagoffer blaam is ‘n enorme probleem want nie net beteken dit dat slagoffers self skuldig en verneder voel nie, dit haal die onus van “behoorlike gedrag” van die aggressor af en plaas dit op die skouers van die slagoffer.  Vroue moet “ordentlik” wees, “toepaslik”aantrek en optree omdat mans hulself blykbaar nie kan of moet inhou nie. Dit is duidelik onaanvaarbaar en belaglik (en vernederend vir mans!).  Ergste van alles is dat soveel vroue hierdie seining steun.  In Steve Biko se woorde, “The most potent weapon of the oppressor is the mind of the oppressed.”So lank as wat vroue mekaar verder viktimiseer deur hierdie middeleeuse sienswyse, kan ons sekerlik nie verwag dat mans tot ander insigte gaan kom nie.

Hoe kan ons die probleem begin hokslaan?  Daar is verskeie benaderings, en ek glo almal is nodig en belangrik.  Ons moet ‘n siening en waardering skep van vroue as gelyke en waardevolle lede van die samelewing. Ons moet die bemagtiging van vroue bevorder – vroue wat finansiëel onafhanklik is en opgevoed is, het ‘n kans op beter lewensgehalte, gesonder families en minder risiko vir gesins geweld. Ons moet oor die algemeen miskien ons opvattings oor ons eie regte in lyn bring met ‘n waardering vir die regte van ander en ons verantwoordelikheid teenoor ander.

Tradisionele opvattings oor seks en sensualiteit moet definitief weer bekyk word en gestroop word van al die mistieke onsin daarom. En op ‘n baie basiese vlak, moet ons minder focus daarop om ons dogters te leer hoe om nie verkrag te word nie, en ons seuns leer hoe om nie te verkrag nie.

Tot dat toestande egter verbeter, gaan hierdie bakens in die donker ons hulp nog baie nodig hê. Ondersteun Rape Crisis asseblief as julle kan.

.

You may also like...

1 Response

  1. malcolm says:

    Very well said. looking forward to reading more from you.

Leave a Reply