Verloor, verlies, verlos

Vir al die positiewe terugvoer op Kaste, sê my mater baie dankie. Hy sê dat hy dit baie waardeer. Natuurlik, was dit mos ‘n oop uitnodiging aan die Moeder om my te help om my eie kas skoon te maak en bietjie motbolle uit te gooi. Ja, vir die wat nog wonder, Sy lees toe nou ook Penton en is op die wandelpad saam met ons almal.

Ek het in die laaste paar weke verloor. Gewig – en dit is fantasties vir ‘n meisie wat haar troue beplan en ‘n skepping wil dra, ‘n boetie – wat my hart gebreek, en ‘n geveg – in die hoop op ‘n verhouding met oop en earlike kommunikasie. Al drie het seer gemaak en was moeilik op hul eie manier. Tog het al drie vrede aan my siel gebring op hul eie, en obskure, manier.

Nou sit ek met gapings in my lewe. My denim is te groot. Nee wag ‘n bietjie, my alles is te groot! Dit voel asof ek soos ‘n slang vervel het, soos ‘n ruspe in ‘n vlinder verander het. My ou vel en lyf afgeskud het en nou in my nuwe ek rondkruip en vlieg. Nou moet ek stelselmatig gewoond raak aan die nuwe ek en hoe mense daarop reageer. Al ooit agtergekom hoe mense net positiewe terugvoer lewer as jy gewig verloor?

‘n Maand of wat terug het ek my boetie verloor. Hy was sewe jaar oud en ‘n pratertjie. Ons het sy boetie in my eerste jaar op universiteit verloor. Dit was seerder hierdie keer, want ons het ‘n langer pad saam geloop. Ek was en is baie life vir hom. Hy het ‘n foto op my altaar saam met al die ander watter ons die pad vooruit loop. Sy dood het die hele familie geskok en ons treur steeds, veral omdat dit so onverwags was. Daar is ‘n gaping in my hart waar hy voort sal leef. Mense reageer vreemd hierop die oomblik as hulle uitvind hy was ‘n kat. Hul simpatie verander hand-omkeer as hulle nie meer dink dis ‘n mens-boetie nie. Dit is te vreemd. “Kry ‘n ander kat.” ‘n Boetie is mos ‘n boetie of julle ma’s nou dieselfde was of nie. Die res behoort nie saak te maak nie, want seer is seer en enige verlies van iemand met wie jy saam groot geword het laat ‘n gat in jou hart.

My mees onlangste verlies het my verlos en vrede gebring. Dis ‘n familiesaak en steeds ‘n teer wond, maar met oop karate speel en eerlikheid het daardie geveg op vrede in my lewe uitgeloop. Meer vreemde reaksies, siende bloed veronderstel is om dikker as water te wees. Nou wie het so gesê en wat beteken dit vir die persoon wat tussen sielsrus en familie moet kies? Net dat water lafenis bring as jy dors is en dat vandag meer as ooit tevore die moderne familie in meer as net een vorm kom.

So dit laat my oor die sosiale konvensies en aanvaarde norme dink oor wat ons nodig het en hoe ons op verlies moet reageer: hoeveel daarvan het ons aangeleer, hoeveel daarvan het ons vir onsself uitgepluis en wat daarvan het ons werklik nodig? Wie het besluit wat is die regte manier, rede, tydperk en hoeveelheid? En wie het gesê ek mag dit bevraagteken? My antwoord was fenominaal, toe ek uiteindelik stil word soos mens net na ‘n goeie huilsessie kan.

EK het so gesê. Ek, die Godin van die dood en geboorte wat met jou praat en vir jou vra om jou eie pad na my te loop. Siklusse is daar sodat jy jouself, My, en Myself in jou beter kan leer ken. Met al drie situasies het jy seer gekry en iets van jouself en jou pad en die mense op jou pad geleer. Jy het laste afgegooi en ligter begin loop, sagkens op die grond wat ek vir jou gegee het om op te wandel.

Nou wie gaan daarmee stry as Sy in haar wysheid haar plan vir ‘n oomblik deel? Ek rou op verskillende maniere. En dis reg. Dis my manier van daarmee werk en proseseer. Wie kan vir my sê dat ek nie ‘n foto van my kieterboetie op my altaar mag pak nie? As dit vir my vrede bring in die plek van ‘n twaalf stap plan om met my verlies vrede te maak is dit mos reg. Ek het dit vir myself uitgewerk en nou weet ek dat ek vrede gevind het, myself verlos het van vooropgestelde idees en beperkinge wat nie myne was om mee te begin nie. My keuse, my verantwoordlikheid, né?

Sosiale konvensies kan vernader. Mans kan met mans trou, vrouens kan ‘n broek dra en almal kan dink wat hulle nie noodwendig mag sé nie. Nie te lank terug nie, het mans gerou omdat hul minnaars met hul susters trou, vrouens het ‘n juffrou of ‘n verpleegster geword en kinders was net muise met groot ore. Ons het keuses wat ons nooit voorheen gehad het nie. Daarmee saam kom ‘n groter verantwoordelikheid as ooit te vore, maar ons het mos almal on grootkind onderklere aan. Die ding is egter dat ons partymaal te veel waarde aan ander mense se goeters heg. Goeters klou vas en kan jou heeltemal oorrompel, as jy nie versigtig is nie. Dis net so moeilik en seer om dit aftegooi, jouself oop te skil tot jy by jou werklike self uitkom. En dit maak seer. Dus rou ons.

Om te kan rou op jou manier bring meer as net vryheid, dit bring verlossing op sy eie manier, as jy jou ogies lank genoeg afvee om dit te sien. En dit maak dit die moeite werd.

Dis daardie lesse wat ons partymaal nie te lekker die eerste keer vind nie.

Dis vergifnis wat ons nie altyd net so sonder toutjies aan onsself kan gee nie.

Dis die vrede wat jy vind as jy gemaklik met jouself en die mense in jou lewe is en weet dat hulle daar is omdat hulle wil.

Dis die wete dat energie nie geskep of vernietig kan word nie, maar voortleef.

Dis die verloor wat jou verlies veroorsaak. Net jy kan aan jouself verlossing van jou eie bande gee.

You may also like...